Die Hoërskool Menlopark

Taal- en leeslaboratoria

Menlo-Duits en -Frans skitter in ‘n eie Taallaboratorium

Die Hoërskool Menlopark is een van slegs enkele skole in Gauteng wat kan spog met ‘n Taallaboratorium om die aanbieding van die tweede addisionele vakke, Duits en Frans, van ‘n slegs akademiese niveau na ‘n vaardigheidsvlak te neem wat ‘n vloeiende gebruik van die vreemdetaal onomkeerbaar maak.

Ons beskik oor ‘n multimedia-lokaal met 40 luisterstasies (bestaande uit ‘n stel oorfone gekoppel met eie werkstasie). Die lokaal beskik ook oor ‘n DVD/Video-fasiliteit. Leerders wat Duits en Frans en die IEB-eksamen (Independant Examination Board-eksamen) daarin aflê maak op ‘n weeklikse basis, as deel van hulle kurrikulum, gebruik van die taallaboratorium en kry sodoende geleentheid om luistervaardighede tot ‘n moedertaalspreker-vlak te ontwikkel.

Gr 8-9 besoek die taallaboratorium een periode per siklus en gr. 10-12 besoek die laboratorium 2 periodes per siklus. Leerders word hier blootgestel aan moedertaal-tempo-gesprekke en opdragte word dienooreenkomstig uitgewerk. Dit is in die Menlo-taallaboratorium hoegenaamd nie ‘n kwessie van slegs een besoek per kwartaal vir ‘n luisterassessering nie. Leerders kry met weeklikse besoeke die geleentheid om luistervaardighede te ontwikkel om uiteindelik in ‘n assesseringsgeleentheid en die werklikheid van Duitsland en Frankryk te kan skitter met selfvertroue.

Die personeel wat die tweede addisionele vakke aanbied maak gebruik van leermateriaal uit Duitsland en Frankryk wat gerig is op ontwikkeling van vreemdetale van ‘n beginner-vlak tot ‘n moedertaalvaardigheidsvlak.

Struktuur van die kurrikulum: om leerders te laat tuisvoel word CD-luisteroefeninge afgewissel met Duits- en Franse weergawes van bekende DVD’s om leerders wat reeds die klankbaan van “Lion King” bykans uit hulle koppe ken gemaklik te laat voel met die Duitse klankbaan van “ König der Löwen” en die Franse klankbaan van “Le Roi Lion” en so maksimale woordherkenning in die vreemde taal moontlik te maak.

Suksesse voortvloeiend uit die weeklikse gebruik van die taallaboratorium van gr. 8- gr. 12 spreek duidelik uit die puik matriekuitslae waarmee leerders wat Duits en Frans neem kan spog. Groepgemiddeldes van 76% en hoër is aan die orde van die dag.

Deutsch kickt! Français est cool! 

Leeslaboratorium

Die gebrekkige en dikwels totaal ontoereikende leesvaardighede van sommige leerders is ‘n kwessie wat hoogty vier in onderwys in Suid-Afrika. Leesvaardighede het indringende aandag op ‘n deurlopende wyse nodig.

Aangesien navorsing al by herhaling bevind het dat die meeste leerprobleme, glad nie leerprobleme is nie, maar eerder leesprobleme, kan Die Hoërskool Menlopark nie met gevoude hande en arms toekyk hoe sy leerders se volle potensiaal nie ontgin word nie.

Gevolglik huisves die skool se Inligtingstegnologiesentrum ‘n klompie jare reeds ‘n rekenaargesteunde leeslaboratorium wat vir een periode in ‘n siklus toegang aan elke graad 8-leerder bied.

Leesvaardigheid, soos ons dit in die leessentrum aanspreek, berus op drie komponente: leesbegrip/retensie, leesspoed en die ouderdomsvlak waarop gelees word.

Die verwagte leesspoed en begrip/retensie op elke graadvlak vir tale soos Afrikaans en Engels, anders as bv. die Nguni-tale wat oor ‘n ander struktuur beskik, sien soos volg daaruit:

GraadSpoedBegrip
Graad 12250-270 woorde per minuut70+
Graad 11238 woorde per minuut70+
Graad 10228 woorde per minuut70+
Graad 9214 woorde per minuut70+
Graad 8206 woorde per minuut70+

Nie alle leerders se leesspoed en begrip van dit wat gelees word is egter dienooreenkomstig hul ouderdom nie. Ons herinner ook dat die aantal woorde per minuut bloot die verwagte spoed is, dis nie uitsonderlik of bo die gemiddeld nie; bloot die afsnypunt tussen dit wat aanvaarbaar, aan die een kant, en onder gemiddeld, aan die anderkant, is.

Leesspoed alleen kan egter nie as maatstaf van ‘n mens se leesvaardigheid gebruik word nie — dit is onderhewig aan die begryp en verstaan van dit wat gelees word.

‘n Uitkoms van 70% vir die begripsvrae is vir die programmatuur wat Die Hoërskool Menlopark aangewend word, die afsnypunt tussen aanvaarbaar en onder gemiddeld.

Hierdie 70% mag dalk as ‘n hoë verwagting gesien word en party ouers kan tevrede voel met 60% en minder. Onthou egter dat die vrae suiwer afgestem is op inhoud en geensins komplekse insig verwag nie.

Die program wat deur die skool aangekoop is, is egter 'n program wat nie net aan mense van alle ouderdomme die geleentheid bied om hul algemene leesspoed en begrip te verbeter nie, maar ook hul spelvaardighede. Speloefening, met die gebruikmaking van herhaling, is in elke les ingewerk.

Die inoefening van spelling, sonder die kontekstualisering en ‘n ontginning van die woord se gebruiksmoontlikhede, is egter ‘n praktyk wat jare gelede reeds uitgedien geraak het.

Gevolglik word die woorde wat die leerders in die spelling-afdeling getik en geoefen het, is ook daarna kontekstueel aangebied en moet hulle dit nou in sinsverband gebruik.

Die verbetering van leesvaardighede staan primêr in belang van elke kind se hele wese, selfbeeld, vorming en toekoms. Aanvullend hiertoe is ‘n akademiese loopbaan en die aanspreek van leerprobleme — wat dikwels (en navorsing wys dit duidelik) niks anders as ‘n leesprobleem is nie.

‘n Sterk vennootskap tussen die ouerhuis, die leerder en die skool is onontbeerlik sou ons enigsins sukses wil behaal in die verbetering van ‘n leerder se leesvaardighede, en wel om die volgende redes:

  • Kinders wie se leesvaardigheid nie op peil is nie, is intrinsiek nie gemotiveerd om by so ‘n program in te skakel nie — net soos wat kinders wat nie balvaardighede bemeester het nie, opsien na LO-periodes waar rugby of netbal gespeel word.
  • Kinders wie se leesvaardigheid nie op peil is nie, beleef enige leessituasie as afbrekend van hul akademiese, sosiale en persoonlike selfbeeld.
  • Kinders verwar ‘n blote vaardigheid, soos leesvaardigheid, met intelligensie of vermoë, en reken, verkeerdelik, dat die inskakeling by ‘n leesprogram, neerkom op die erkenning van ‘n akademiese onvermoë of ondergeskikte intelligensie.

Die skool kan gevolglik nie van ‘n leerder verwag om deur sy eie toedoen by ‘n na-skoolse leesprogram in te skakel nie. Ons het dit aanvanklik probeer maar gou gevind dat die goeie lesers na die sentrum stroom om hul lesvaardighede nog verder te verbeter, terwyl die outjies met werklik gebrekkige leesvaardighede die sentrum ten alle koste vermy.

Daarom dan ook dat die skool reeds drie jaar nou al tyd in die graad 8 en 9-leerders se dagprogramme inruim om hulle die geleentheid tot verbetering van hul algemene leesvaardighede te bied.

Hulp, leiding, ondersteuning, en onderskraging van die ouerhuis se kant, moet in dié verband die personeel getaak om die leerlinge te mobiliseer, te sterkste aanvul.

Die skool is deeglik bewus van die onkoste verbonde aan sodanige programme, maar dis nie ons doel om geld uit die leerders te maak nie; ons tree op in belang van elke kind wie se leesvaardigheid kan (en moet) verbeter, daarom bied ons die diens en geleentheid gratis aan.

Die leesgeleentheid vind in klasverband plaas; met tot dertig lesers in ‘n sessie kan daar gevolglik nie sprake van gespesialiseerde individuele aandag aan die leerders wat remediëring nodig het, wees nie.

Die sentrum bied daarom nie remediëring aan nie; bloot geleentheid aan elkeen om sy algemene leesvaardigheid te verbeter. En het ons jaar een nie reeds bevind dat die aandag en tyd wel vrugte afwerp nie, sou ons nie daarmee voortgegaan het nie.

Ernstige uitvalle en gevalle waar individuele en gespesialiseerde hulp nodig is, word egter gou opgetel en op oueraande aan ouers kommunikeer.

Sou ‘n leerder duidelik oor ‘n gebrekkige leesvaardigheid beskik, reflekteer dit tien-teen-een oor jare heen reeds op sy akademiese rapport.

So ‘n leesprobleem het heel dikwels ‘n fisiologiese oorsaak wat met sukses reggestel kan word. Weer eens is dit egter iets wat nie in die skool se hande lê om op te spoor of aan te spreek nie. Dit is en bly egter verblydend dat sommige ouers wat gevaarligte sien flikker, werk daarvan maak om professionele hulp en leiding te ontvang.

Enkele riglyne rondom die interpretasie van lees-vorderingsverslag waarmee ‘n graad 8-leerder by die huis kan kom

Die vlak waarop ‘n leerder tans lees, word langs sy naam en graad vertoon. Die spoed waarteen gelees word, asook die begrip/retensie van dit wat gelees word, is op die verslag aangeteken.

Die verwagte vlak, spoed en begrip/retensie sien soos volg daaruit:

GraadVlakSpoedBegrip
Graad 12D3250 - 270 woorde per minuut70+
Graad 11D2238 woorde per minuut70+
Graad 10D1228 woorde per minuut70+
Graad 9C3214 woorde per minuut70+
Graad 8C2206 woorde per minuut70+
Graad 7C1  
Graad 6B3  
Graad 4B2  
Graad 3B1  

Ouers moet hul nie blind staar teen die kontrole- en meet spoed waarteen die leerder lees nie, maar hulle ook deeglik vergewis van die vlak waarop die leerders lees.

As ‘n graad 9-leerder 214 woorde per minuut, met 70% begrip op vlak C3 lees, is daar geen rede tot kommer nie. (Graad 8’s kyk na 206 woorde per minuut op vlak C2).

Moet ek bekommerd wees as my graad 8-kind op vlak C1, B3 of B2 is?

As ‘n verslag aandui dat ‘n leerder op ‘n laer vlak as die verwagte vlak lees, kommunikeer dit beslis dat die betrokke leerder se leesvaardigheid nie op peil is nie. Die leerder lees byvoorbeeld baie stadiger as wat op sy werklike ouderdom en graad verwag sou kon word. Of, al lees die leerder nie noodwendig so stadig nie, is die begrip en retensie van dit wat gelees is ver onder die verwagte 70%.

In die geval van die baie stadige lesers word die leerder dan van leesstof op ‘n laer vlak voorsien. Die leestekste is telken aansienlik korter, wat dit vir die stadige leser moontlik maak om ‘n hele leseenheid in een periode te voltooi. Is die leesteks te lank, voltooi die leerder as gevoilg van die stadige leesaksie, dikwels nie die les nie. Ons kan nie van ‘n kind verwag om in die volgende week werk te voltooi oor ‘n teks wat hy of sy ‘n week gelede gelees het nie.

Dis egter ook nie net die leestekste wat korter word, hoe laer die vlakke beweeg nie. Ook die leesbaarheidsindeks van die tekste word aangepas. Dit hou verband met die lengte van die sinne en selfs die gemiddelde hoeveelheid lettergrepe per woord.

Hoe laer die vlak, hoe makliker die geleentheid vir die leerder om by 70% retensie en begrip uit te kom. En 70% retensie en begrip is waarna ons streef. Sodra ‘n leser 70% in ‘n betrokke studie-eenheid verwerf pas die rekenaar die spoed waarteen die kontrole-lees gedoen word, met tien woorde per minuut aan.

Tydens die kontrole-lees word die leerder se oogspiere en oogspierbeweging geoefen om vinniger te lees. En die leerders wat nougeset saamwerk se leesspoed ontwikkel daadwerklik. Met inbegrip natuurlik die behoud van begrip en retensie — juis omdat daar slegs aan leesspoed ontwikkel word, mits die begrip en retensie 70% is.

Daar is gevolglik ruimte vir verbetering as ‘n leerder op ‘n laer vlak lees, maar gelukkig nie net ruimte vir verbetering nie, maar ook geleentheid vir verbetering.

Die leerders van wie nie net die kontrolespoed verbeter het nie (die tweede laaste kolom op die verslag), maar ook die natuurlike leesspoed (derde laaste kolom), is die leerders wat die duidelikste baat vind by die program.