Menlo Kuns

Menlo-Kuns

1.png - 536.19 kb

 “Dit is nie belangrik waarna jy kyk nie, maar wat jy sien …”

Wat ‘n voorreg was dit nie om die afgelope 20 jaar betrokke te kon wees by die opbou en vestiging van Die Hoërskool Menlopark se puik Kunsdepartement nie! Ons praat natuurlik nie net van die pragtige kunsklas wat met sy baie spasie en goeie beligting soos ‘n regte kunsstudio funksioneer nie, maar ook die vele kuns hoogtepunte wat ons kunsleerders beleef oor baie jare en die  menigde pryse en toekennings wat hul ontvang het.

Wie kan nog die Fresca bussie onthou of die gesogte MTN Kunskleure ? Die jaarlikse Pretoria News Design an Ad kompetisie wat talle wenners oplewer en die pret en plesier van gesig- en lyfverf - is maar ‘n paar hoogtepunte op die kunskalender. Terugkykend  is ons dankbaar en bring alle eer aan die Hemelse Vader wat ons geseën het met die unieke teken- en skildertalente waarmee daar deur die Parkie Picasso’s gewoeker word in die kunsklas.

Dit is vir my ‘n voorreg om elke dag te kan werk met entoesiastiese leerders wat elkeen so uniek in eie reg is. Die besonderse eer om  elke kunsleerder se kreatiewe reis na volwassenheid en selfontdekking  te beleef tydens die skep van ‘n kunswerk. Die skeppingsproses  kan vergelyk word met bekende verhaal van die lelike eendjie. Aan die begin word geswoeg en gesweet om ‘n oorspronklike idee te kry (die eier te lê), en wanneer die groeiproses dit eindelik laat uitbroei word dit maklik gekritiseer as lelik of nie goed genoeg nie.

Slegs deur baie deursettingsvermoë en harde werk word waarneming en visuele geletterheid aangeleer en kreatiwiteit ingespan om oorspronklike oplosings vir probleme te vind. Die korrekte vaardighede en verskillende media en tegnieke word met tyd bemeester en elke leerder word deur die proses soos ‘n diamant fyn geslyp. Sodoende kan elke kunsleerder ontwikkel in die spreekwoordelike pragtige swaan.

Suksesvolle kunsskepping laat die leerders se menswees ontwikkel en hul selfvertoue groei. Dit word weerspieël in die besonderse kunswerke wat iets van die elke leerder se siel reflekteer. Daarom kan ons bevestig dat “dit nie is waarna jy kyk wat belangrik is nie, maar wel dit wat jy sien!”

Ek nooi u dan graag om gereeld te kom kyk na die talentvolle leerders se werk, om hul kreatiwiteit raak te sien en hul prestasies te waardeer. Absolut Menlo-Kuns!

Mariana de Klerk