Die Menlo-Orkes

Die Menlo-Orkes is een van die gewilde  kultuuraktiwiteite by Die Hoërskool Menlopark. Meeste van die orkeslede is ook leerders by Die Hoërskool Menlopark se Musiekakademie.

Die Menlo-Orkes bestaan tans uit 30 orkeslede wat onder andere die volgende instrumente speel: alt-viool, kontrabas, drom, elektriese kitaar, fluit, sintetiese klavier, klassieke kitaar, saxofoon, tjello, trompet en viool.  Hulle is by die Suid-Afrikaanse Konsert- en Marsorkesvereniging (SAMOV) geaffilieer.  Oefening is woensdagaande van 17:45 tot 20:10 in die Menlo-mediasentrum en een keer per jaar word ’n orkeskamp gereël waartydens daar baie musiek en jolyt gemaak word. Absolut Orkes!

Visie

Die Menlo-orkes is in 2011 begin en het sommer gou op die hartsnare van die skool getokkel.  As naaswenners in die Nasionale kompetisie in 2013 laat hulle nie gras onder hulle voete groei nie (soos diegene,wat al in die orkesstoor was, sal weet).

Die hoofdoel van die orkes is om ‘n waardering vir musiek as kunsvorm te kweek.  Selfdisipline, stiptelikheid en ywer is die pilare waarop ons Menlo-orkes drome berus. Ons weet dat hierdie waardes nie net in die musiekwêreld geld nie, maar in elke faset van die lewe. Daarom weet ons dat enige Parkie wat aan die einde van sy/haar skoolloopbaan die orkes verlaat enige valsnote wat op die lewenspad kom ook sommer maklik sal kan stem.