Die Hoërskool Menlopark wil leerders dinamies kreatief en met relevante vaardighede toerus om die uitdagings van die toekoms manhaftig op te los en skeppend ons land welvarend vir al sy inwoners maak.
Bogenoemde vind plaas binne die raamwerk van 'n sterk Christelike etiek en gemeet aan ons vier gesonder waardes, naamlik: Integriteit, lojaliteit, respek en ywer.
Seuns en dogters behoort die volwasse leefwêreld waarin hulle eendag gaan leef, lief hê, aanbid en werk alreeds nou in 'n gemengde skool te beleef. Die werksplek-arbeidsveld is te kompeterend om later nog aan te pas om met iemand van die teenoorgestelde geslag saam te kan werk.
Ons dink vernuwend om 'n styl van outydse, outoritêre dissipline te omvorm in selfdissipline waar leerders met relevante uitdagings die regte keuses sal kan maak en dan die regte dinge sal kan doen.
Ons leer ons kinders om “street wise” te wees, met ander woorde die spreekwoordelike “speakers corner” te gebruik om met verantwoordelikheid hulle sê te kan sê.
Kreatiewe denke word in elke faset van die skool aangemoedig eerder as om van leerders te verwag om in konformerende kassies te dink.
Leerders word geleer om waardegedrewe self verantwoordelikheid vir hulle doen en late te aanvaar en om sodoende nie afhanklik te wees van ouers en onderwysers se goed- en afkeuring nie, deurdat hulle self weet wat verkeerd en reg is.
Engels word op 'n huistaalbasis (moedertaal) aangebied sodat leerders ewe tuis in albei landstale sal wees. Onder andere word daar in elke vak moeite gedoen met terminologie wat leerders nodig vind om in vaktaal te kommunikeer.
Ons omvattende kampus bied 'n vriendelike, doeltreffende tuiste vir ons leerders wanneer hulle besig is met 'n verskeidenheid aktiwiteite. Daar is sportakademies vir bykans elke sportsoort met hulle eie leefstyl klubhuise. Op kulturele gebied het ons 'n doeltreffende eie dramateater. Ons musieksentrum is argitektonies uitstekend ontwerp om vir leerlinge met musiektalent die geleentheid te gee om in doelgemaakte musiekkamers te kan oefen.
Vakdidaktiek vind in die klaskamer al hoe meer op 'n moderne manier plaas, byvoorbeeld deur witborde, dataprojektors en interaktiewe borde. Daar is vier rekenaarsentrums waarin IT-verwante vakke en vaardighede aangebied word (byvoorbeeld leeslaboratorium). Ons toekomsvisie is ook om internet “hotspots” op die kampus daar te stel. Inligting wat die leerders raak, is vir 24-uur op 'n elektroniese bord beskikbaar.
Naas goeie akademie word vaardighede aan leerlinge geleer wat onontbeerlik in hulle beroepslewe sal wees. Leerders besoek beroepsomgewings sodat hulle eerstehands direk kan sien wat in bepaalde beroepe kan gebeur, so byvoorbeeld gaan die Rekeningkundeleerders saam met ouditeure na hulle kliënte om die beroep in praktyk te kan beleef.
Ons leierleerders word verkies om gesonde kommunikasie met ander leerders te laat plaasvind, sodat die leerders ervaar dat hulle nie net gesien word nie, maar ook gehoor word. Daar is ʼn matriekraad wat die hele skool bedien sowel as 'n graadraad vir elke graad. Dit het tot gevolg dat die basis van leerderleierskap, sowel as die kommunikasie tussen leerders baie vergroot word.
Die skoolbestuur beplan alle aktiwiteite sodat dit kindvriendelik en kinddeelnemend sal wees. (Leerders word byvoorbeeld geken in die opstel van eksamenroosters).
- Ons hou van ons leerders,
- ons hoor wat hulle sê,
- ons is aan dieselfde kant as ons leerders en
- ons het 'n toekomsplan vir ons leerders en saam met ons leerders.