Menlo_Menlopark_Krieket

Absolut krieket! Twee Oud-Parkies in Proteas-toetsgroep

Dit is met groot trots dat daar verlede Vrydag, 24 Februarie 2017, twee oud-krieketspelers van Die Hoërskool Menlopark gekies is vir die Proteas se toetsgroep teen Nieu-Seeland.  Theunis de Bruyn, wat ook onlangs sy buiging vir die Proteas in T20-krieket gemaak het, is saam met Heinrich Klaasen op pad Nieu-Seeland toe.

Heinrich, ‘n paaltjiewagter/kolwer, het in 2009 matrikuleer en Theunis in 2010.  Theunis was ook onlangs die kaptein van die Knights wat die Sunfoil reeks (4-dag kompetisie) gewen het.  Theunis spog met ‘n hoogste eersteklas telling van 202* teen ‘n kolfgemiddeld van 49.34 (7 honderdtalle).  Heinrich het ‘n hoogste telling van 201 in eersteklas krieket met ‘n kolfgemiddeld van 49.06 (7 honderdtalle). 

Die eerste toets begin op 8 Maart in Dunedin gevolg deur die tweede toets in Wellington op 16 Maart en die derde toets op 25 Maart in Hamilton.  

 

Ons wens hierdie manne alle voorspoed toe!

Oud-Parkie maak debuut vir die Proteas!

Baie geluk aan oud-Parkie Theunis de Bruyn wat die afgelope naweek sy debuut vir die Proteas gemaak het.  Theunis is ook in die Proteas se toetsgroep opgeneem nadat hy die afgelope paar seisoene vir die Titans en die Knights uitgeblink het.  Theunis spog tans met ‘n eersteklas kolfgemiddeld van 51.24 en het al ‘n totaal van 7 hondertalle op eersteklasvlak geslaan met ‘n hoogste telling van 202*.

 

Willem slaan krieketrekord vir 'n ses!

Willem Britz breek Charl Minnaar se rekord vir die hoogste telling by Menlopark vir die eerstespan, met ‘n onoorwonne 180 lopies teen St. Andrews (Grahamstad). Dit was ook Willem se 100ste wedstryd vir die eerstespan. Absolut geluk Willem!

 

Menlo-krieketmanne op koers na Ierland-klubkrieket vir 2 maande!

Jaco Lange en Sebastian van Rooyen (graad 10) het pas in Ierland geland, waar hulle vir 2 maande aan `n klubkrieket-uitruilskema in die Dublin-area deelneem.  Sebastian gaan vir The Hills Cricket Club speel en Jaco vir Balbriggan Cricket Club.  Albei die seuns sal by Ierse-families bly. Absolut Menlo @ Absolut Klubkieket!

  12.jpg - 42.82 kb    13.jpg - 81.78 kb

Menlo is SA se T20-kampioene van 2015! 

Die Hoërskool Menlopark is vanjaar gekroon as die beste T20-krieketskool in Pretoria en ook in die Titansstreek en het as SA-krieketkampioene uit die stryd getree in die T20-finaal!  Krieket Suid-Afrika het sedert 2010 ‘n nasionale T20-kompetisie waarin meer as 350 skole deelneem.  Pretoria, wat onder Northerns val, was Menlopark se eerste hekkie.  

Menlopark en Garsfontein het sake uitgeklaar in die Northerns-finaal. Menlopark het die wedstryd met 6 paaltjies beklink om uit te tree as die wenner. Die prysgeld vir die kompetisie beloop R33 000. 'n Week later het Menlo vir Dr. EG Jansen in die Titans se T20-finaal getroef met 15 lopies en is gekroon as die Titans T20-kampioene.

Die Titans bestaan uit Easterns, Limpopo, Mpumalanga en Northerns.

Menlo het in die nasionale T20-toernooi vanaf 20 tot 22 Februarie 2015 in Stellenbosch deurgedring na die nasionale finaal. Hulle het hulle pad met seges oopgespeel tot in die finaal van die toernooi  en uiteindelik kragte gemeet teen Grey College en Hilton College. Die Menlo-krieketspan tree as kampioene en as Suid-Afrika se beste krieketspan uit die stryd! Absolut ons trots!

Lees meer onder uitslae. Kliek hier vir video-hoogtepunte van die finaal